Bekendstelling Van Pastorale Krisis En Verryking Spreekkamer
Ons was bevoorreg om die afgelope 19 jaar op verskeie maniere diens te lewer in die NG Gemeente Florauna in Pretoria. Ek het ‘n 60 % tentmaker pos tot 30 Junie 2007 en sedert 1 Januarie 2007 ook ‘n 40% pastorale hulp pos in Eloffsdal NG Gemeente in Pretoria. Vanaf 1 Julie 2007 sal ek net ‘n 60% pos by Eloffsdal hê. Ek beman ook ‘n pastorale spreekkamer in my oorblywende tyd.
Florauna is ‘n makro gemeente waarin al 6 die predikante die unieke geleentheid gegun word om te spesialiseer. Ek het in 16 van my 19 diensjare hoofsaaklik my aandag aan jeugwerk, kampe, seminare en inrigtingsorg gewy. Die afgelope 3 jaar was ek bevoorreg om ons toerustings gemeente met behulp van ‘n omgeegroep en gawebediening te begelei saam met goed opgeleide mentors. Dit is voorwaar ‘n groot uitdaging wat alreeds soveel vrug lewer. Ek is ook betrokke by Huis Hermon en Ruimte by die senior volwassenes. As gemeente predikant was ek ook in die tydperk verantwoordelik gewees vir die gewone gemeente bediening volgens die pligte van Artikel 9 van die Kerkorde. Ek bedien 31 wyke wat uit 311 besoekpunte, 478 belydende en 146 dooplidmate bestaan. Huisbesoek vorm ‘n integrale en belangrike deel van my wyksbediening. As voorsitter van ons Sentrale Kerkraad en voorsitter van die Ring van Pretoria-Noord( beide die afgelope 3 jaar ) asook lid van die Moderamen(Sinodale diensraad) van Noord Transvaal, leef ek ook my leierseienskappe en verhoudingsbou vaardighede uit. Ek is op 1 Januarie 2007 ook aangestel as patorale hulp (40% pos) in die nabygeleë Eloffsdal NG gemeente. Dit is die 2de oudste NG gemeente in die stad.(volgende jaar 100 jaar oud) Al die gewone pligte van Artikel 9 van die Kerkorde moet deur my verrig word met die klem op die Jeugbediening en die Ouetehuis en ouer persone in die gemeente. Dit, saam met die ontwikkeling van ‘n omgeegroep bediening asook sterk en doelgerigte leiding neem en die ontwikkeling van mentoraatskap, is eerste prioriteit. Die sake sluit nou aan by my gawes en bedieninge en ek en Hanlie sal ons met gemak ook hier kan uitleef en ‘n verskil kan maak.
Hanlie my vrou is ‘n dosent in wiskunde aan die Fakulteit van Opvoedkunde by die Universiteit van Pretoria en was die afgelope 3 jaar voorsitter van ons Vrouediens en is ook betrokke by die ringsvroue. Sy is ook hart en siel betrokke in ons bediening. Marie-Louise, my dogter was vir 2 jaar in London werksaam en is tans ‘n 2de jaar student in Bloemfontein.
Pastorale krisis en verryking spreekkamer (My privaat praktyk)
Ek bedryf die praktyk sedert 1988 terwyl ek nog in die weermag betrokke was. Die volgende spesialisvelde word hoofsaaklik bedien:
- Selfbeeldbou en kreatiwiteitsontwikkeling
- Egskeidingsmediasie
- Voorhuwelikse beraad en Tienerberaad
- Alkoholisme en Chemiese afhanklikheid
- Huweliksverryking en Huweliksberaad
- Post traumatiese stres en depressie
- Gesinsberaad en Egskeidingberaad
Ek bied ook gereeld manne, vroue, tiener en gesinskampe en seminare aan. Op ’n gereelde basis word ook seminare vir enkellopendes, geskeides en huwelikspare aangebied. Die onderwerpe wat onder andere behandel word sluit selfbeeldbou, streshantering, konflikhantering en kommunikasievaardighede in. Talle radiopraatjies en reekse op RSG, Radio Kansel en Radio Pretoria, preekgeleenthede, Pinkster, optredes en verskeie ander geleenthede word ook deur my waargeneem.
Professionele en Gemeenskapsaktiwiteite
- Pastorale dienste/berading was gelewer by Aurora Kliniek vir Alkoholiste en Dwelmafhanklikes (1980 – 1986), Oranje Hospitaal vir Psigiatriese pasiënte (1980 – 1986) asook huisvader en pastorale begeleier by Susanna Coetzee Tehuis vir ongehude moeders te Bloemfontein (1981 – 1984).
- Dienspligkapelaan by 1 Valskermbataljon te Bloemfontein (1985-1986).
- Sinodale aanstelling as pastor by Berg-en-Dal tehuis vir ongetroude moeders vanaf 1 Februarie 1996 tot 31 Desember 1998 om die pastorale werk te hanteer. Ek tree ook in 2001 – 2004 op as voorsitter van die Beheerraad van Berg-en-Dal tehuis.
- Aangestel deur die Minister van Justisie in 1991 as Gesinsraadgewer in die Kantoor van die Hoof-gesinsadvokaat om te help met mediasie en berading.
- Vir twaalf jaar (1989 – 2001) was ek betrokke as Pastorale Konsultant by Castle Carey, Kliniek vir Alkoholisme en Chemiese Afhanklikheid, waar ek groepwerk met die pasiënte asook motiveringsessies vir die personeel aangebied het.
- By Tutela, Plek van Veiligheid het ek Pastorale sessies aan die kinders gebied asook twee weeklikse Bybelstudie en motiveringsessies aan die personeel (1989 – 2000). Ek was ook voorsitter van die pastorale- en geestelike werkgroep wat uit al die geestelike werkers en predikante van die verskillende denominasies bestaan het (1993 – 2000).
- Het as mede-dosent saam met Prof. Lien van Niekerk van die Fakulteit Opvoedkunde, UNISA opgetree vir die een-jaar sertifikaat kursus in Christelike jeugberaad (1997- 2001).
- ‘n Self-ontwikkelde Korrespondensiekursus in persoonlikheidsvernuwing en –ontwikkeling (1995 tot op hede), wat deur die Voorligter en Kerkbode bekend gestel was, en landswyd aangekoop word. Die kursus bestaan uit 6 verskillende afdelings wat elk uit ‘n volledige werkboek en begeleidende cd bestaan.
- My boek “ ‘n Suksesvolle egskeiding, moontlike stories van hoop” het pas verskyn. Dit dien as ‘n handleiding vir geskeides, hoe kinders daardeur geraak word asook die belewing van heling in Christus. In die nuwe jaar sal die volgende een beskikbaar wees met die titel “Om ‘n cool ouer te wees!”. Talle etiese en aktuele sake word daarin hanteer wat ouers prakties sal begelei in die Christelike opvoeding van hulle kinders.
Professionele Organisasies En Lidmaatskappe:
- Suid-Afrikaanse Assosiasie vir Mediasie (SAAM) vanaf 1993 as lid en sedert 1998 as Hoofbestuurslid tot 2004.(lidnommer 94019)
- Suid-Afrikaanse Assosiasie vir Pastoralewerk (SAAP) vanaf 1990 tot op hede as geregistreerde spesialis lid. (lidnommer 506)
- Council for Counsellors in South Africa (CCSA) vanaf 1990 tot op hede as ‘n geregistreerde spesialis lid.(lidnommer SC 00199)
- The Association of Christian Counsellors in South Africa (ACCSA) as geregistreerde spesialis lid vanaf 1989 tot op hede.(lidnommer 1511)
- ‘n Ministriële aanstelling deur die Minister van Justisie, Kobie Coetzee as Gesinsraadgewer by die kantoor van die Hoof Gesinsadvokaat, Prof. Francis Bosman, in Pretoria vanaf 7 Mei 1991 tot op hede.
- Opgeleide mentor vir predikante van die Noordelike Sinode sedert 2005.
Ek werk gewoonlik saam met professionele persone (soos sielkundiges, psigiaters, maatskaplike werkers, mediese dokters, prokureurs, dieëtkundiges ens.) in spanverband en verwys ook persone na hulle. Indien u bewus is van persone wat ‘n behoefte het aan berading of enige van die dienste, is u welkom om my te skakel of hulle na my te verwys. Ek glo dat die Here vir my in Sy diens gebruik om so ‘n verskil te maak en mense te begelei op ‘n pad van heling en groei.
Groete in Christus.
Dr.J.A.Botha